GELOOFSBELYDENIS
Ons glo in ‘n ewige drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, die Almagtige Skepper, Onderhouer en Regeerder van die hele skepping.
Ons glo in God die Vader, bron van die skepping en verlossing.
Ons glo in Jesus Christus die eniggebore Seun van God, waarlik God, wat ter wille van die mens en sy saligheid uit die hemel neergedaal en vlees geword het, wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria, wat in die wêreld geleef het, gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die regterhand van God die Vader sit.
Ons glo in die Heilige Gees, waarlik God, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat die mens oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel, en hom in die hele waarheid lei.
Ons glo dat die Bybel die Woord van God is, geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees. Ons glo dat die Woord van God gesaghebbend die wil van God vir die mens verkondig en alles leer wat vir saligheid nodig is.
Ons glo dat alle mense na die beeld van God geskape is, maar deur hulle sondige opstand is hierdie beeld geskend; dat alle mense voor God gesondig het en dat dit die wil van God is dat alle mense deur geloof in Jesus Christus, saligheid sal ontvang.
Ons glo in die doping in die Heilige Gees met die spreke in tale, as die eerste inisiële teken. Ons glo ook in die werking van die geestelike gawes en die vrug van die Gees in ‘n Christen se lewe en dat ‘n Christen ‘n dissipel van Jesus is wat ‘n toegewyde en heilige lewe lei.
Ons glo dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is, wat saamgevoeg word deur die Heilige Gees en bestaan uit alle weergebore gelowiges. Die Kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en die wil van God aan alle mense. As geesvervulde gelowiges beoefen hulle onderling broederskap en bou mekaar op.
Ons glo dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is, wat saamgevoeg word deur die Heilige Gees en bestaan uit alle weergebore gelowiges. Die Kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en die wil van God aan alle mense. As geesvervulde gelowiges beoefen hulle onderling broederskap en bou mekaar op.
Ons glo dat die doop van die gelowige deur onderdompeling en die nagmaal instellings van Christus is en deur die Kerk as sulks beoefen word.
Ons glo dat die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou deur God verordineer is en ‘n beeld is van die verhouding tussen Christus en Sy Kerk en dat wanneer die tyd deur God bepaal, gekom het, Christus as Bruidegom sal kom en die Kerk as Sy Bruid sal wegneem.
Ons glo in ‘n oordeelsdag waarop Christus die Regter, die lewende en dode sal oordeel, in die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose; en
Ons glo in ‘n nuwe hemel en aarde waar God in heerlikheid sal regeer!